Tuis | Nuus | Nuus | Geen plek vir Rambo’s nie

Hierdie artikel berig oor ’n onlangse vergadering buite ons area maar spreek sterk uit teen kwessies waaroor die SAPD besorgd is. Daar word veral gepraat oor GPF-lede wat buite hul reg optree asook spreek die Genl. homself sterk uit teen Whatsapp groepe. Iets om aan te dink.

 

Dit was die streng waarskuwing deur die SAPD se adjunk-provinsiale kommissaris Maj.Genl. Jan Scheepers, tydens ’n algemene vergadering van Letaba se veiligheidsforum wat 23 November 2017 gehou is. “Buurtwag, Plaaswag en ander verwante organisasies wat onder die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforums val, moet iets baie duidelik verstaan,” het hy gesê.

“Jy is daar om jou plaaslike polisie te ondersteun in die geval van ’n misdaad, nie andersom nie. Die polisie is die wetstoepassers, en ons kan nie hierdie nuwe neiging duld dat veiligheidsgroepe die wet in eie hande neem nie. As jy die polisie gaan omseil, vertraag jy nie net hul reaksietyd nie maar belemmer jy hul pogings om hul werk te doen, boonop kan jy aangekla word van dwarsboming van die gereg.”

Scheepers het ’n baie harde houding ingeneem teenoor die kwessie van sosiale media en veral die gebruik van WhatsApp-groepe om inligting oor ernstige misdade te versprei. Volgens hom is sosiale media die grootste oorsaak van sake wat onopgelos gaan en misdadigers kans gun om te ontsnap. Geen foto’s of video’s van misdaadtonele of verdagtes mag oor WhatsApp of enige sosiale media-platform versprei word nie, aangesien die saak dadelik uit die hof gegooi kan word.“ Misdadigers het ook toegang tot sosiale media en roekelose verspreiding van inligting word deur hulle gebruik  om vervolging te vermy.

As ’n foto van ’n verdagte in ’n misdaad deur middel van hierdie platform na honderde mense versprei word, sal die verdagte nie in ’n uitkenningsparade geidentifiseer kan word nie en sal hy dan vrygelaat word ná sy arrestasie. “As jy hom [oor Whatsapp] in polisie-optrede identifiseer, sal die misdadiger vry gellat word omdat jy hom vroeër gesien het en dit beteken dat jou getuienis nie vertrou kan word nie.”

Dieselfde geld vir foto’s van misdaadtonele. Slegs SAPD speurders mag ’n misdaadtoneel betree en dit is buite die perke van die publiek as gevolg van die bedreiging om die toneel te besoedel. “Foto’s en video wat gesirkuleer word van die misdaadtoneel plaas die toneel in publieke oog en ondermyn die ondersoek heeltemal omdat die toneel as besmet beskou word. Bewyse uit die toneel kan nie meer gebruik word in ondersoeke nie, wat beteken dat jy die ondersoek effektief gedwarsboom het deur foto’s of video met nuuskierige groeplede te deel.”