Tuis | Nuus | Nuus | Frans Smith

Frans Smith

Die nuwe raadslid in wyk 52 van die Tshwane Metro. Frans Smith is gekies en getaak om aangeleenthede in die wyk van ons te behartig. BMWCID het met hom gesels.

Frans Smith is gekies as die DA-raadslid in Wyk 52 van die Moot area. Hy is woonagtig in Centurion - maar sien dit nie as ’n struikelblok in die verteenwoordiging van Wyk 52 nie. “Met die tegnologie vandag is dit maklik vir die inwoners om my te bel of ’n e-pos te stuur met betrekking tot ’n kwessie.  Alhoewel ek in Hennopspark woon, is ek heeltemal bereid om te ry vir enigiemand wat my hulp benodig” sê hy.

 

Frans Smith- nuwe Raadslid

“Ek is passievol oor die gemeenskap, en ek geniet dit om die gemeenskap te bedien. Ek was 1996-2000 ’n wykraadslid in Centurion en dit is vir my aangenaam om nou raadslid vir hierdie wonderlike gebied te wees.”

Smith is oorspronklik van Nylstroom, maar het vir ’n groot deel van sy lewe in Pretoria gewoon en sê hy het die stad baie lief. “Ek is aktief betrokke by die gemeenskap in Centurion en ek gaan uit my pad om die gemeenskap meer betrokke te kry.” Smith is ’n aktiewe lid van die NG Kerk Sesmylspruit, en dien as ’n ouderling, hy was ook Sondag skool onderwyser vir baie jare. Hy is ’n lid van die SA Gideons, en dien op die bestuurskomitee van Laerskool Hennopspark. Hy is al langer as 40 jaar betrokke by Voortrekker kommando Sesmylspruit, en is tans Kapelaan daar.

 

“Ek is ’n mens-mens en beplan om as raadslid van wyk 52, eerstens op die sekuriteit van die wyk 52 gemeenskap te fokus. Een van my hoof doelwitte sal wees om ’n veilige en vriendelike omgewing vir die gemeenskap van hierdie gebied te skep.”