Tuis | Nuus | Nuus | Waar op aarde is oom Jakkie?

Waar op aarde is oom Jakkie?

Wel Oom Jakkie is terug. Uit en Tuis en by die huis. BMWCID is baie trots op Jakkie van der Kolf, wat die reuse taak met groot sukses voltooi en ook ons gemeenskap se waardes, grein en durf regoor ons land ten toon gestel het. Hy het ook baie vriende gemaak en ’n paar jonger manne laat besef dat die tyd vir avontuur en welwillendheid, lank nie verby is nie. Hiedie belewenis sal die lewens van baie, minder bevoorreg aanraak. Ons is ook dankbaar dat hy veilig en sonder voorval terug is in ons geweste, hier bo in die noorde.

Jakkie op pad...Die fietstoer het op 31 Mei 2014 by Die Kasteel in Kaapstad begin en weer daar ge-eindig op 30 Augustus 2014. Altesaam 92 dae waarvan 68 dae en 299 ure op die fiets deurgebring is. Die ander dae het ek gekuier by familie en vriende.

Die totale afstand afgelê is 5 384 km teen gemiddeld 18km per uur en 80 km per skof. Die afstand mag ‘n rapsie verder en langer geduur het omdat die afstandmeter se battery pap geword het en vir ‘n entjie geen meting van afstand en tyd geneem is nie.

Die langste skof was 153 km van Hermanus na Struisbaai/Agulhas waarvan ‘n hele ent grondpad was. Die vordering was nie so vinnig en die laaste ± 15 km is in die donker afgelê. Die korste skof was ‘n skamele 37 km van Hluhluwe na Mkuze/Bayala. ‘n Swak grondpad met baie op en af wat my kragte lekker getap en moeg gemaak het. Dit het 2 uur 38 min geneem om af te lê. Die moeilikste skof was van Pongola na Piet Retief. ‘n Afstand van 103 km waar Piet Retief 1 032m hoër bo seevlak is as Pongola en mens ook nog hoër oor die berg gaan. Ook hier is die laaste sowat 25 km in die donker afgelê. Amper 10 ure geneem en daardie aand was ek so moeg soos nog nooit in my lewe nie.

Die hoogste snelheid wat behaal is, was by Bettiesbaai omgewing toe ‘n noordweste rukwind my van agter gestoot het tot 92 km per uur. En teen ‘n bergaf naby Badplaas, is 84 km per uur behaal.

Die vinnigste wat 20km afgelê was, is 23 minute, maar toe kom ek agter dis net 5,6km. Die borde langs die pad tussen Thabazimbi en Northam is foutief.

Van Steenbokpan na die plaas Bosveld Avontuur is 23 km. Daardie pad is ellendig met ente net twee sandspore tussen dik sand. Moes vir 2½ uur daardeur sukkel.

En dan was ‘n sterk noordooste wind in my guns toe ek van Vryburg na Kuruman oor ‘n afstand van 142km gemiddeld 24 km per uur kon ry.

Die meeste agtereenvolgende dae wat ek gery het was 20 waartydens 1 550km teen ±77km per dag afgelê is. Dit was van Thabazimbi tot Vredendal.

Nooit gevoel dat ek in gevaar verkeer nie. Geen papwiel of enig iets van die fiets het gebreek of probleem gegee nie. Nooit nodig gehad om die sak waarin my tent en slaapsak was, oop te maak nie. Het elke aand in ‘n hotel, gastehuis of by vriendelike mense oor gebly en kos gekry.

Na afloop van die toer het die skaal gewys dat ek nou 6 kg ligter is. Nou eet ek weer so baie dat niemand my vir ‘n braai of ete wil nooi nie.

Hierdie was ‘n eenmaal in ‘n leeftyd ondervinding wat ek vir niks sal verruil nie, al het ek soms warm en baie koud gekry en het ook ’n paar keer pap sopnat gereën.

Die doel van die fietstoer sal ek later vertel. Dit het nie oor my gegaan nie, hoewel ek die genieting en die avontuur daarvan gehad het. ‘n Uitdaging wat ek geniet het.

Groete, Jakkie.