Tuis | Nuus | Nuus | BMWCID het ’n nuwe handelsmerk

BMWCID het ’n nuwe handelsmerk

Hoekom? BMWCID brei uit!

Nuwe logo

Die BMWCID het oorspronklik begin in Sektor 1 van Villieria SAPD.  Hierdie sektor bestaan uit Bergtuin , Môregloed en Waverley, dit dan ook waar die BMW deel van die naam sy oorsprong het.

 

Die BMWCID spog met baie suksesse, en ’n gemeenskap wat weet wat dit is om saam te staan en saam te werk om ’n verskil te maak.  Nagte deur is daar manne en vroue op die pad in ons omgewing, wat met hul eie voertuie patrollie ry om misdadigers die skrik op die lyf jaag. Op die wyse het ons omgewing die  bewondering van ander areas verkry.

Enige iemand wat al by ’n GPF vergadering was, sal getuig dat misdaad nie gestop word nie, maar dat dit wel verskuif kan word. Misdaad word verskuif wanneer ’n gemeenskap aktief betrokke is by misdaad voorkomingsaksies en programme wat saam met die polisie en sekuriteitsmaatskappye geloods word om misdaad die hok te slaan.

Die BMWCID loods en bestuur programme en aksies soos gemeenskapspatrollies en die gemeenskapsradio projek asook die maandelikse befondsing van geslotekringkameras vir die monitering van ons strate. BMWCID belê ook baie in ’n wye gedrukte buitelig media veldtog wat nie net die gemeenskap van ons paraatheid teen misdaad inlig en aanspoor om deel te neem nie, maar ook booswigte waarsku dat hulle nie geduld sal word in ons area nie. BMWCID dien ook as tussenganger en kommunikeer positief namens ons die gemeenskap met al die rolspelers soos die SAPD, GPF en sekuriteitsmaatskappye.

Na velle versoeke van naburige gemeenskappe om die BMWCID uit te brei en misdaad sodoende selfs nog verder te verskuif, is die area wat BMWCID bedien vergroot vanaf die snelweg tot by Voortrekkersweg.  BMWCID kan sodoende meer patrollie voertuie op die pad kry en het ’n groter kans om misdadigers vas te trek.

Ons het reeds baie lede uit areas wat nie oorspronklik deel was van BMWCID se grense nie. Hierdie lede het nie net aangesluit nie maar is aktief betrokke en maak reeds ’n  reuse verskil in die stryd teen misdaad in die Moot.

Die nuwe handelsmerk verseker kontinuïteit in ontwerp en sal dus verseker dat die welbekende eienskappe van die vorige handelsmerk, asook die welwillendheid wat dit by die gemeenskap gekweek het, op uitgebou sal word. Die nuwe, groter geografiese area wat BMWCID beslaan, kom ook duidelik na vore deur die groot setrale MOOT.

 

Kom ons vier die nuwe handelsmerk, en die groei van BMWCID, deur hande te vat en te kyk hoe ons saam groei en ’n verskil maak.