Tuis | Nuus | Nuus | Beurtkrag! Brandgevaar en versekeringkrisis!

Beurtkrag! Brandgevaar en versekeringkrisis!

Versekeringseise piek midde beurtkrag

Eskom beurtkrag bring verskeie risiko’s en verbruikers moet waaksaam wees om te verseker dat enige gevolglike versekeringseise sal slaag.

“Tans in die versekeringsbedryf is daar ’n toename in verskillende tipes eise as gevolg van beurtkrag - byvoorbeeld ’n skerp styging in eise weens inbrake,” het Lizette Erasmus, hoof van versekeringkundigheid IntegriSure op Sake24 gesê.

Elektriese heinings of ’n alarmstelsel kan, byvoorbeeld, nie operasioneel wees tydens beurtkrag nie.

“Baie mense aktiveer nie hul alarm tydens beurtkrag nie. Maak seker die battery is in ’n werkende toestand.

Aktiveer jou alarm as jy jou huis verlaat, selfs al is daar beurtkrag. Dit is belangrik dat jy bewys het dat jou alarm in ’n werkende toestand was toe jy jou perseel verlaat het, sodat indien die alarm weens beurtkrag nie gewerk het nie, jou versekeraar jou eis sal toestaan,“ het Erasmus gesê.

Daar word ook ’n skerp  toename in gewapende rooftogte gesien by huise.

Gemeenskapslede moet seker maak dat hul veiligheidsdeure gesluit is. Wees waaksaam wanneer jy jou eiendom verlaat of terugkeer tydens beurtkrag.  Hou altyd ’n flits in die motor.

Ten opsigte van versekeringeise as gevolg van kragstuwings, moet jy seker maak wat jou versekeringproduk dek en of dit ingesluit is as ’n standaard dekking.

Ontkoppel elektriese toerusting wat nie in gebruik is nie, Koppel dit net wanneer dit gebruik word.  Rekenaars en televisie toestelle moet ook aan ’n stuwingsbeskermingsprop gekoppel word of ontkoppel eerder hierdie toestelle tydens beurtkrag.

Brandrisiko’s

Brandrisiko’s hou ook verband met beurtkrag.  In ons omgewing was daar die afgelope tyd ’n paar gevalle van huise wat afgebrand het as gevolg van kerse of gaslampe wat tydens beurtkrag gebruik is, wat blinders en gordyne aan die brand gesteek het, waarna gasbottels ontplof het.  ’n Huiseienaar  in Waverley, het gesê dat sy huis binne 10 minute afgebrand het — al wat hulle oor gehad het was die nagklere waarmee hulle gevlug het.

Daar was ook ’n geval van ’n gesin wat aandete voorberei het. Toe die krag afgaan het hulle vergeet van die stoof wat nog op ’n hoë stelling aangeskakel was, die potte met olie het aan die brand geslaan op die stoof nadat die krag weer aangekom het.

Indien jy kerse gebruik tydens beurtkrag, maak seker om hulle uit te doof voor jy gaan slaap.

Indien jy ’n kragopwekker gebruik, maak seker dat jy weet hoe om dit te gebruik. Gebruik ’n betroubare persoon om die installasie te doen indien jy ’n sertifikaat van voldoening benodig.

 

“Daar is dus baie hoë risiko’s waarvan die gemeenskap onbewus is. Die gemeenskap sal meer waaksaam moet wees.” het Erasmus gesê.