Tuis | Nuus | Nuus | Moot-rowers vas

Moot-rowers vas

Twee rowers is geskiet en gewond nadat ’n skietery tussen hulle en die polisie op die hoek van Steve Bikoweg en Fred Nicholsonstr losgebars het.

Twee rowers is Woensdag in die Moot deur wakker inwoners en dapper polisiemanne vasgetrek nadat hulle ’n motorhandelaar in Franzinastraat beroof het.

’n Ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly, sê hy het een van die gewonde rowers in Steve Bikoweg sien hardloop toe hy en ander omstanders hom agterna gesit en in Johan Heynsweg vasgetrek het.

“Die polisie het intussen die tweede rower in Fred Nicholsonstraat gevang. Hulle het uitstekende werk verrig,” het die ooggetuie gesê.

Albei rowers is geskiet en gewond.

Polisiewoordvoerder sersant Ann Poortman sê drie tot vier rowers het by ’n motorhandelaar ingestap en die werknemers aangehou.

“Hulle het in ’n swart BMW en ’n silwer Audi TT gespring en weggejaag. Die swart BMW is ’n kliënt se kar. ’n Werknemer het enkele minute later ’n Wonderboompoort-polisie kar gestop en hulp ontbied. Hulle het die BMW agternagesit.”

Sy sê die rowers het op die hoek van Steve Bikoweg en Fred Nicholsonstraat op die polisie begin skiet. “Die polisie het teruggeskiet en albei rowers gewond.”

Een van die rowers het uit die kar gespring en weggehardloop, maar is deur omstanders in Johan Heynsweg gevang. Die tweede rower is by die BMW deur Moot- en Wonderboompoort-polisie in hegtenis geneem.

Poortman sê hul medepligtiges in die silwer Audi TT het gevlug.

 

Natalie Grobler en foto - Rekord Moot