Tuis | Nuus | Nuusbrief

Boomplantkompetisie

Hoekom doen ons dit?

Met hierdie kompetisie wil MootGi poog om meer as 500 bome in ons omgewing geplant te kry. Ons wil ’n volhoubare invloed op ons omgewing hê, en dit vir deelnemers die moeite werd maak om deel te neem. Lees verder vir meer inligting.

Read more...

 

Boomplantdag 2017!

1 September is Nasionale Boomplantdag. Plant een boom, of sommer baie!

Die doel van die dag is nie net om mense in te lig oor die belangrikheid van ons natuurlike hulpbronne nie, maar ook om groot en klein bewus te maak van die gees van volhoubaarheid wat dit by almal kweek.

Natuurlik is dit ook lentedag wat alles en almal dié tyd van die jaar transformeer in iets baie meer vrugbaar en aangenaaam as dit waarmee ons deur die winter moes sukkel. Die fokus die jaar is op 2 bome. ’n Algemene boom, die Blinkblaar-wag-’n-bietjie (Ziziphus mucronata) en die tweede ’n skaars boom, die Ebbeboom (Euclea pseudebenus). Jy is nie enigsins tot die 2 bome gebind nie, want hulle aard dalk nie in jou omgewing nie. Dit is belangrik om bome te plant wat in jou omgewing en situasie werk. Jy wil nie oor 5-jaar ’n boom verwyder wat die telefoondrade bedreig nie...

Bome is van kardinale belang vir die voortbestaan van mense en diere. Die struike en bome wat ons plant, werk saam om ’n beter wêreld vir ons te skep.
Bome vervaardig suurstof

’n Volwasse groen boom produseer genoeg suurstof in een seisoen vir 10 mense om vir ’n jaar asem te haal.

Bome is koolstofopgaarders

Bome gaar koolstofdioksied op om hul kos te vervaardig en stoor dit in hout, wortels en blare. Koolstofdioksied is die grootste oorsaak van aardverwarming.

Hierdie proses stoor koolstof as hout en nie as ’n beskikbare gas nie.

Bome maak grond skoon

Bome neem gevaarlike chemikalieë en ander besoedelende stowwe in die grond op. Bome suiwer ook rioolwater, boerderychemikalieë en dier-afval.

Bome beheer geraas

Bome demp stedelike geraas amper net so doeltreffend as baksteenmure.

Bome beheer stormwater spoed

Verskeie volwasse bome onderskep jaarliks meer as 1000 liter water per boom. Ondergrondse water word aangevul deur vertraagde stormwater.

Bome suiwer die lug

Bome help om die lug te suiwer deur deeltjies uit die lug op te neem. Dit verminder die hitte en neem besoedelingstowwe soos koolstofmonoksied, swaeldioksied en stikstofdioksied op. Bome verwyder dié lugbesoedeling deur die lug se temperatuur te verlaag en die chemiese deeltjies op te neem.

Bome verskaf skaduwee

Bome verskaf skadu in warm Suid-Afrika. Minder lugversorging word benodig, m.a.w. minder elektrisiteit.

Dele van stede sonder boomskadu kan tot 12°C hoër wees as dié met bome.

Bome is windskerms

Bome demp die krag van sterk winde in die winter en hou die koste van verhitting laag. Windskerms kan die verhittingskoste met 30% verminder. Windskerms bewaar grondwater en plante teen uitdroging.

Bome bekamp gronderosie

Boomwortels bind die grond en boomblare breek die krag van die wind wat oor oppervlaktes waai om die bogrond op dié wyse te beskerm. Bome beheer ook stormwater.

Bome verhoog eiendomswaarde

Volgens kenners kan bome die waarde van eiendom met 15% of meer verhoog.

Bome is huise

’n Boom is ’n onafhanklike ekologiese stelsel. Verskeie klein soogdiere, voëls, insekte en lewende organismes woon in bome.

Bome gee kos

Verskeie diere, voëls en organismes is ten volle op bome aangewese as die hoofbron van voedsel. Elke deel van ’n boom – die blare, vrugte, bas en wortels – kan kos aan mens en diere verskaf.

Bome is ’n energie bron

Bome word gebruik om vuur te maak, en die meeste Suid-Afrikaners maak steeds op vuur as hoofenergiebron staat. Die volhoubare gebruik van bome is egter van die uiterste belang, aangesien dit tans oorbenut word. Ontbossing kom ook voor en lei tot woestynvorming en erosie.

Bome is medisyne

Bome word vir tradisionele medisyne gebruik. Die blare, wortels en selfs bas word deur Afrika-kulture gebruik om siektes te behandel.

Bome maak welvaart

Dele van bome kan verwerk word in produkte soos alkoholiese as nie-alkoholiese drank, meubels, boustrukture, papier en nog meer.

Bome, deel van ons kultuur

Bome het simboliese waarde in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Verskeie Suid-Afrikaanse bome word beskerm en as toeriste-aantreklikheid gebruik.

 

Watermeters by dosyne!

Een kriminele aktiwiteit wat in ons area en oral in Gauteng voorkom, is die diefstal van enigiets wat van koper en ander metale gemaak word, weens hul herverkoopwaarde. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die erge armoede in ons land. Soos in die Julie 2017 Nuusbrief van MootGi berig is, is hierdie misdaad besig om oral hand uit te ruk. Ek het gewonder hoekom Die Tshwane-Raad nie ’n span aanstel om al die Koper watermeters te verwyder, en die met plastiek meters te vervang nie.

Op die wyse kan die raad die koper watermeters vir skroot verkoop teen ’n wins en die koste van installasie en die koste van die plastiekmeters daarteen afskryf.

Ten minste kry die booswigte wat soveel omgerief en vermorsing veroorsaak nie die voordeel van die gesteelde wins nie.

Sien MootGi se Augustus 2017 nuusbrief, bladsy 9, onder die artikel met die selfde naam, en kliek op die foto’s om watermeterrowers in aksie te sien.

 

Onvervangbare karretjies

Na aanleiding van die skerp styging van motordiefstal en diefstal-uit-motors in ons area, het MootGi met Mnr. Frans Stone van Tracker gesels om meer uit te vind oor dié vorm van misdaad wat net aanhou toeneem en die Moot gemeenskap van onvervangbare eiendom ontneem.

My buurvrou se moedertjie se klein afbetaalde karretjie is die afgelope naweek, helderoordag in Hertzog Straat gesteel, onvervangbare skade. Saterdag gedurende NG-Villieria se mooi Gee-Bazaar, is daar binne minute in ’n motor ingebreek ten spyte van hordes sekuriteitpersoneel en karwagte in die straat.

MootGi wil die gemeenskap herhinder daaraan dat parate samewerking en snelle reaksie nie net lewens red nie maar kosbare eiendom ook. Meer ingeligte oë en ore in ons area beteken meer suksesse om kriminele vas te trek en dit vir misdadigers moeilik te maak om ons area as ’n maklike teiken te sien.

Volgens Mnr. Frans Stone is die Moot is ’n sagte teiken vir motordiewe aangesien baie van die motors in ons omgewing ouer, afbetaalde karre is wat dan nie op versekeringpakette is wat vereis dat daar alarm stelsels of opspoorapperaat geïnstalleer hoef te word nie. Die voertuie staan buite op sypaadjies en is maklik om te steel.

Mnr. Stone reken sindikate sal tot 11 persone in ’n area aflaai, wat elk teruggaan met ’n gesteelde motor.  Een persoon kan tot 4 keer terugkeer op een dag, en met 4 karre wegkom.

Volgens Tracker is Toyota by verre die gewildste fabrikaat vir diefstal en dit sluit dan ook alle modelle en jaar-modelle in. Toyota-motors gaan meeste van die tyd na Soshanguve as hulle in die Pretoria area gesteel word.  Polo’s het altyd Soweto toe gegaan maar nou word hulle Mamelodi toe geneem indien hulle in die Pretoria omgewing gesteel is. Hilux-bakkies gaan Soweto, Innerdale en Eldorado Park toe.

Van daar word nommerplate verander en word die motors grens toe geneem, waarvandaan hulle dan oor die Mosambiek of Zimbabwe grense gesmokkel word.

Indien hulle Zimbabwe toe gaan slaap hul gewoonlik oor in Louis Trichardt in ’n lodge vanwaar sindikaatlede wag vir hul Zimbabwe kontak om te laat weet watter roete om te volg.

Hulle sal of deur die grenspos ry en polisie daar omkoopgeld betaal, of alternatiewelik deur die rivier gaan.

Donkies word aan bome langs die rivier vasgemaak. Wanneer sindikaatlede dan daar kom met ’n gesteelde Hilux of Land Cruiser, span hulle 3 of 4 donkies voor die motor in en die donkies neem dan die gesteelde kar deur die rivier oor die grens. Op so wyse is daar geen verdagtes nie, sou die die voertuie terug gevind word .

Daar is verskeie apparate wat motordiewe gebruik om voertuie te steel. Skroewedraaiers, “jammers” of enige voorwerp wat langs ’n motorvenster kan ingly.

Mnr. Stone sê: “Die groot probleem is dat sodra die voertuig gesteel is, begin die misdadigers die parte en panele binne in die motor afruk om die opspoorapperaat, of dan die “tracking device”, te vind. Indien die motor gevind word is dit in so slegte toestand dat dit in meeste gevalle afgeskryf kan word”.

Soms steel hulle spesifieke kleur motors vir parte en bakwerk onderdele. Hulle sal byvoorbeeld net die een deur afhaal en dan die motor in ’n verlate plek los. Hulle neem slegs die part wat nodig is omdat daar reeds ’n koper vir die motor is.

Mnr. Stone reken MootGi gemeenskapslede moet leer om niks van waarde in hul motors te los nie, selfs nie in die kattebak nie, en dat motors binne erwe agter slot-en-grendel parkeer moet word.

 

PUMA

PUSH UNTIL MEDICS ARRIVE!

MootGi het soos geadverteer, op 24 Augustus ’n basiese-beginners noodhulp kursus vir die gemeenskap gratis aangebied. MootGi se groot dank en waardering gaan uit na Hugo Minnaar en die personeel van International Medical Services (IMS) wat die kursus behartig en aangebeid het. Sonder julle kan ons die gemeenskap nie op dié manier dien nie.

Hugo Minnaar en sy span het op vermaaklike wyse die gemeenskap toegerus met die waardevolle,  lewnsreddende vaardigheid wat vandag as KPR bekend staan, of mond-tot-mond asemhaling soos die ouergarde gesê het.

Soos op die foto’s duidelik is, het oud-en-jonk kom leer hoe om vir hul geliefdes en medemens in die bres te tree, indien die dag sou kom wat hulle redding benodig. IMS het ook gewys hoe motorfietshelms van beseerde ryers verwyder word sonder om nekbeserings te vererger, voor KPR toegedien kan word. Hoe om bloeding in verskillende situasies en toestande te stop. Hoe om beseerdes met moontlike spinalebeserings te draai en te hanteer. Hoe om te bepaal wie jy eerste help by ’n ongelukstoneel, watter beserings jy eerste hanteer.

Hierdie is als kritiese vaardighede. Kyk uit vir MootGi se volgende kursus. Dankie weereens Hugo en die IMS span. Onthou, moenie huiwer om te help nie.

PUSH UNTIL MEDICS ARRIVE

 
More Articles...