Tuis | Nuus | Nuusbrief | Dakar

Dakar

Hier tussen ons is daar ’n ridder wat soos die skim deur die strate van die Moot beweeg en huisrowers wat oor die berg oppereer op sy ysterperd soos verlore skape aankeer. Of hy is waarskynlik op die stert van ’n gesteelde motorkar, in ’n hoë-spoed agtervolging van motordiewe, oor spoedkalmering, om verkeersirkels, en deur kruisings, teister hy die booswigte tot in die hande van gewoonlik die blitspatrollie in. Meeste ken die ridder op die F650GS motorfiets as Dakar. MootGi het bietjie met hom gesels.

 

Waar kom jy aan die naam Dakar, en hoe voel jy oor jou alias?
Nadat ek my eerste radio gekry het, het ek op insidente begin reageer met my F650GS DAKAR motorfiets. Ek is toe later DAKAR gedoop en dit het my roepsein geword. Ek is heel gemaklik met dié naam! Interessant dat ek slegs wakker word indien beheer DAKAR roep oor die radio, of as iemand gil of ernstig vir bystand roep. Vir die res van my 2 tot 4 uur nag, slaap ek vas en kan min my dan wakker kry.

Hoe ervaar jy misdaad in die omgewing, en die gemeenskap se reaksie daarop, en voel jy dat die gemeenskap bydra tot misdaad bekamping?
Ons omgewing, soos meeste ander areas in ons land, loop erg deur onder misdaad en gaan nie gou verbeter nie Die swak ekonomie bring mee dat mense slegter daartoe af is, wat beteken dat klein-misdaad gevalle sal vermeerder. Ons regstelsel gee die krimineel al meer regte, ongelukkig floreer ernstige en gewapende misdade daarop. Let op hoeveel misdaad steeds gepleeg word as gevolg van nalatigheid deur ons gemeenskap, dis dan duidelik dat daar baie lede is wat beslis meer ingelig moet word oor die stand van sake in ons land. Gemeenskapslede wat al deur geloop het onder misdaad is beslis meer paraat en baie raak dan betrokke by die GPF en gemeenskapspatrollies, hulle rapporteer dan ook insidente vinniger en meer akkuraat aan die sekuriteitsdienste. Die gemeenskap dra vir seker by tot misaad bekamping, en lede wat patrollie ry maak ‘n groot verskil, maar ons moet besef dat patrollies geensins die krimineel wat ons area te voet betree, afskrik nie. Inligting sessies wat gereël word om die gemeenskap toe te rus om spoedig en binne die reg op te tree by insidente help ook baie. Dit maak gemeenskapspolisiëring in ons area soveel meer effektief.

Hoeveel noue ontkomings het jy al op jou motorfiets gehad?
Ja ek het al verskeie noue ontkomings gehad maar moet erken dat daar ’n Hoër Hand is wat na my omsien. Wanneer ek terug kyk op insidente, kan ek sien hoe Hy my beskerm het.

Het jy ooit enige tegniese motorfietsopleiding gehad?
Nee, geen. Die DAKAR was my eerste motorfiets en ek het tyd spandeer op hom en myself spoedig met meer tegniese vaardigheid bemagtig. Dink jy SAPD motorfietspatrollies deur gevorderde ryers sal misdaad ‘n knou gee? Dit sal beslis! Veral in spits tyd wanneer dit tydsaam is om van punt A tot B te beweeg. Dit sal ook in die veld en in spruite — wat volop is in ons area — ’n groot hulp wees. Reaksie tyd na enige toneel is uiters belangrik, dit is al goed bewys met van die kleiner motorfietse wat Villieria SAPD gebruik.

Is daar ander metodes van misdaad bekamping, buiten die normale - soos die gebruik van hommeltuie - wat gebruik kan word om misdaad te bestry?
Hommeltuie is effektief met spesifieke reaksie, optredes of operasies. Maar vir misdaad bekamping sou dit moeilik wees as gevolg van privaatreg in Suid-Afrika. In die VSA laat party state polisie toe om hommeltuie te gebruik vir reaksie en optredes, maar glad nie vir patrollering nie. In baie state mag polisie glad nie hommeltuie gebruik nie. In Mexico gebruik polisie hommeltuie vir misdaad voorkoming en selfs vir straat patrollering, en kameras op die tuie is toegerus met gesig-uitkennings-sagteware om berigte kriminele vas te trek. Ons wetgewing is nog nie aangepas vir die gebruik van hommeltuie nie. Maar dit sal beslis ‘n verskil maak teen misdaad in ons area.

Ons dank aan jou Dakar, wat beskerm met die selfde dringendheid as nog ’n ruiter, die een van skimmelperdpan... Dankie vir jou onbaatsugtige diens wat jy aan ons gemeenskap bied. Ons almal waardeer dit, jy is nie net ’n goeie voorbeeld nie maar ook iemand om na op te kyk met betrekking tot betrokkenheid en diens aan die gemeenskap. Ry en wees veilig. Ons gebede is dat die Here se hand van beskerming oor jou en jou motorfiets sal wees.