Tuis | Nuus | Nuusbrief | Boomplantdag 2017!

Boomplantdag 2017!

1 September is Nasionale Boomplantdag. Plant een boom, of sommer baie!

Die doel van die dag is nie net om mense in te lig oor die belangrikheid van ons natuurlike hulpbronne nie, maar ook om groot en klein bewus te maak van die gees van volhoubaarheid wat dit by almal kweek.

Natuurlik is dit ook lentedag wat alles en almal dié tyd van die jaar transformeer in iets baie meer vrugbaar en aangenaaam as dit waarmee ons deur die winter moes sukkel. Die fokus die jaar is op 2 bome. ’n Algemene boom, die Blinkblaar-wag-’n-bietjie (Ziziphus mucronata) en die tweede ’n skaars boom, die Ebbeboom (Euclea pseudebenus). Jy is nie enigsins tot die 2 bome gebind nie, want hulle aard dalk nie in jou omgewing nie. Dit is belangrik om bome te plant wat in jou omgewing en situasie werk. Jy wil nie oor 5-jaar ’n boom verwyder wat die telefoondrade bedreig nie...

Bome is van kardinale belang vir die voortbestaan van mense en diere. Die struike en bome wat ons plant, werk saam om ’n beter wêreld vir ons te skep.
Bome vervaardig suurstof

’n Volwasse groen boom produseer genoeg suurstof in een seisoen vir 10 mense om vir ’n jaar asem te haal.

Bome is koolstofopgaarders

Bome gaar koolstofdioksied op om hul kos te vervaardig en stoor dit in hout, wortels en blare. Koolstofdioksied is die grootste oorsaak van aardverwarming.

Hierdie proses stoor koolstof as hout en nie as ’n beskikbare gas nie.

Bome maak grond skoon

Bome neem gevaarlike chemikalieë en ander besoedelende stowwe in die grond op. Bome suiwer ook rioolwater, boerderychemikalieë en dier-afval.

Bome beheer geraas

Bome demp stedelike geraas amper net so doeltreffend as baksteenmure.

Bome beheer stormwater spoed

Verskeie volwasse bome onderskep jaarliks meer as 1000 liter water per boom. Ondergrondse water word aangevul deur vertraagde stormwater.

Bome suiwer die lug

Bome help om die lug te suiwer deur deeltjies uit die lug op te neem. Dit verminder die hitte en neem besoedelingstowwe soos koolstofmonoksied, swaeldioksied en stikstofdioksied op. Bome verwyder dié lugbesoedeling deur die lug se temperatuur te verlaag en die chemiese deeltjies op te neem.

Bome verskaf skaduwee

Bome verskaf skadu in warm Suid-Afrika. Minder lugversorging word benodig, m.a.w. minder elektrisiteit.

Dele van stede sonder boomskadu kan tot 12°C hoër wees as dié met bome.

Bome is windskerms

Bome demp die krag van sterk winde in die winter en hou die koste van verhitting laag. Windskerms kan die verhittingskoste met 30% verminder. Windskerms bewaar grondwater en plante teen uitdroging.

Bome bekamp gronderosie

Boomwortels bind die grond en boomblare breek die krag van die wind wat oor oppervlaktes waai om die bogrond op dié wyse te beskerm. Bome beheer ook stormwater.

Bome verhoog eiendomswaarde

Volgens kenners kan bome die waarde van eiendom met 15% of meer verhoog.

Bome is huise

’n Boom is ’n onafhanklike ekologiese stelsel. Verskeie klein soogdiere, voëls, insekte en lewende organismes woon in bome.

Bome gee kos

Verskeie diere, voëls en organismes is ten volle op bome aangewese as die hoofbron van voedsel. Elke deel van ’n boom – die blare, vrugte, bas en wortels – kan kos aan mens en diere verskaf.

Bome is ’n energie bron

Bome word gebruik om vuur te maak, en die meeste Suid-Afrikaners maak steeds op vuur as hoofenergiebron staat. Die volhoubare gebruik van bome is egter van die uiterste belang, aangesien dit tans oorbenut word. Ontbossing kom ook voor en lei tot woestynvorming en erosie.

Bome is medisyne

Bome word vir tradisionele medisyne gebruik. Die blare, wortels en selfs bas word deur Afrika-kulture gebruik om siektes te behandel.

Bome maak welvaart

Dele van bome kan verwerk word in produkte soos alkoholiese as nie-alkoholiese drank, meubels, boustrukture, papier en nog meer.

Bome, deel van ons kultuur

Bome het simboliese waarde in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Verskeie Suid-Afrikaanse bome word beskerm en as toeriste-aantreklikheid gebruik.