Tuis | Nuus | Nuusbrief | Op ’n fiets deur die Karoo

Op ’n fiets deur die Karoo

Oom Jakkie van der Colff is vanjaar 75 oud. Hy het weer die pad aangevat met sy ou ysterperd, die keer deur die Karoo. Lyk ook nie of hy beplan om gou te stop nie, sy lysie het nog uitdagings!

 

Ons in die stede hoor van droogte, waterbeperking, agteruitgang as gevolg van swak dienslewering, verval van dorpe en werkloosheid. Weet ons hoe sulke dinge lyk?

Tydens my onlangse fietstoer deur ’n deel van die Karoo het ek die dinge gesien. ’n Oud skoolmaat wat 20 km buite Vanrhynsdorp boer het die afgelope reënseisoen 4½ mm reën op sy plaas gehad. Op die berg waar hy rooibostee plant was dit darem 11mm. In al die dorpe waardeur ek gery het, is grasperke nou sand beddings en plante dooie stingels. Werkloosheid lei onder andere daartoe dat kinders verwek word sodat R 275 kindertoelae maandeliks geëis kan word. Geen wonder in een dorp is daar ’n 11 jarige wat geboorte geskenk het nie.

Dit is wat ek gesien en van vertel is tydens die toer van ± 750 km van Warrenton  -> Kimberley -> Douglas -> Prieska -> Carnarvon via Vosburg -> Williston -> Calvinia -> Niewoudstville -> Vanrhynsdorp tot Vredendal. Die dorpe is nogal ver van mekaar. Gelukkig het ek goeie weer gehad en selfs wind in my guns.

Die toer is om twee redes aangepak. Wou nog altyd deur die Karoo met ’n fiets ry. Die Karoo is ’n eiesoortige landstreek. Net voor sonsopkoms is die rante, berge en koppies se silhoeët swart en grys teen die oosterkim. Dan wanneer dit meer lig word lyk die landskap soos ’n kunswerk waar die kunstenaar geen kleure gebruik het nie. Dan besef ’n mens dié kunstenaar kan net God wees. Die lug is skoon en vars. Die stilte soos net doodse stilte kan wees. Selfs nie die geringste geluid word gehoor nie. Die ooptes laat ’n mens vry voel. Vry van stres en verpligtinge en tydsdruk. Dan wanneer ’n mens met die fiets ry dan voel jy hoe liggaam en gees en siel verkwik word. ’n Mens word weer mens.

Die tweede rede was dat ek die persone wat die verskillende skofte daarlangs gereël het van die Brug na Berg Fietsrit persoonlik wou ontmoet. Die fietsrit het op 6 Mei vanjaar plaasgevind. Dit op sigself was aangenaam want dit is almal oulike en interessante persone.

By elke dorp het ek stories gehoor en ook geskiedkundige plekke gesien en kon besoek. Ook die geleentheid gehad om op ’n regte Karoo plaas oor te bly. En daardie plaas is ’n sieraad soos die meeste van die plase wat nog bewoon word. Het ook gesien hoe gemeentelede voorberei vir ’n kerkbasaar. Versoek was dat 30 000 sosaties gemaak moet word. Die man in beheer het gesê hy dink hulle behoort tussen 23 000 en 25 000 te kan maak. 800 skape was toe reeds geslag.

Het in Calvinia die singende, prekende verkeersbeampte ontmoet. Hy is ’n legende in daardie kontrei. Ook die man wat van die eerste liedjies vir die bekende Klipwerf Boereorkes geskryf het. Terloops hy het rugby gespeel tot 60 jarige ouderdom en is in sy laaste speeljaar met ’n geelkaart van die veld afgestuur weens geweldadige spel. Hy was toe ’n voorry.

Dit het my ook te beurt geval dat ek by die Hantam Fietsklub se jaarvergadering kon vertel van my vorige fietstoere en veral hoe dit gebeur het dat ek begin het om fiets te ry in 2012 op 70 jarige ouder-dom.

Om in kort te vertel van so ’n interessante fietstoer en van die voriges, is nie moontlik nie. ’n Mens kan self dink na bykans 11 000 km op die fiets deur verskeie dele van ons mooi en interessante land is daar baie te vertel. Van elk van die toere is ’n joernaal geskryf en ook ’n boek met titel “Uitdaging Oorwin, “ na die solo toer wat my reg om SA geneem het. En natuurlik het ek baie kiekies geneem wat wonderlike herinneringe oproep.

Vraag van my vrou is; “Wat gaan jy volgende aanpak?”  Kom ons wag en kyk. Daar is wel nog wat ek wil doen.

Wil ’n laaste iets noem en dit is dat liggaamlike oefening die goedkoopste, vry en verniet medikasie is.

Vir almal wat hier lees, onthou; “Dat as jy iets wil doen , dan kan jy. En as jy dit gedoen het, dan sal jy goed voel.”