Tuis | Projekte | Radios

Radios-vir-huise

So ‘n paar dae gelede gesels ek en ‘n Johannesburger met mekaar oor die wesenlike verskille  tussen die onderskeie dorpe waarin ons elkeen woon. Misdaad, korrupsie,  munisipale dienslewering, gejaagde stadslewe en gebrekkige buurmanskap was van die gesprekspunte.
Toe ek hom vertel van die BMWCID en hulle onderskeie projekte, vra hy my wat is n “Gemeenskap-radio” en dit sit my toe aan die dink.

Hoe sal ek ons gemeenskapradios omskryf? Is dit n misdaadvoorkomings hulpmiddel? Ja, maar dis nie al nie.

Welslae rondom misdaad trek gewoonlik die meeste aandag, maar dan is daar die suksesse, stories en gebruike wat van ons Gemeenskapradio-projek ‘n projek vir en deur die gemeenskap maak.

Gebeure wat nie so baie aandag trek nie, maar wat beslis moeiliker opgelos sou wees as ons nog vlaggies, semafore en briefies in mikstokke gebruik het vir kommunikasie.

Ek wonder gereeld of mense wat nie betrokke is by die radio-projek en nie belangstel in die doen en late van BMWCID al agter gekom het dat meeste dooie straatligte, geknipte heinings, slaggate, gesteelde kabels, lekkende watermeters en –pype en oorgroeide sypaadjies in ons wyk baie vinniger aandag kry vanaf die Metro as enkele jare gelede? As iemand deesdae een van die bogenoemde probleme raaksien, is net n radio-berig na die beheerkamer nodig om dit aan te meld by die korrekte department. As die probleem nie dadelik opgelos word nie, word dit maar net weer en weer en weer deur die personeel in die beheerkamer aangemeld. Dit help om die relevante departemente te laat besef dat ons goeie en spoedige diens verwag.

Van die ander dinge waar die radios al hul merk gemaak het was vir hulpverlening tydens die onlangse erge reen in die omgewing. ‘n Gemeenskaplid het geval en ‘n enkel gebreek. Met die radios is mediese dekking vinnig gereel. Straatbome en kabels het in die slag gebly en die inwomers kon op verskeie plekke mobiliseer om hulp te verleen.

Wie bel jy as jy in Fratesweg ry en daar, langs die pad, staan ‘n paar perde vir jou en kyk, of wie bel jy as jy laataand by jou woning ‘n slang langs die trappies vind of ‘n bynes in die nok van jou dak het? Wie bel jy as jou bejaarde vader om die blok gaan stap en hy na ‘n uur nie terug is nie, of as jou seuntjie nie by die skool se hek wag soos hy elke middag doen nie?

Die antwoord is maklik: Neem jou radio in jou hand, druk die stuur knoppie en roep die beheerkamer. Tussen die personeel in die Beheerkamer en gemeenskapslede wat die kanaal monitor, sal iemand vinnig tot jou hulp kom.

Ander dinge waarvoor daar al hulp ingeroep is oor die radios sluit gevalle in waar daar gesinsgeweld was, diere karkasse langs die pad, troeteldiere wat wegraak en olie- en diesel vermorsing op ons strate.

Dis moeilik om die sukses van die Radio-projek te kwantifiseer, maar wat soos ‘n paal bo water staan: Die inwoners van die BMWCID praat weer en meer met mekaar en omdat ons met mekaar praat, loop die ratte van ons wyk soveel gladder as in ander wyke in die Metro.